HIERDIE ERVARING MOET KOM
“En hy het hom nie meer gesien nie.”
2 Konings 2:12
Dit is nie verkeerd om van Elia afhanklik te wees solank God hom aan u gee nie, maar onthou dat die tyd sal kom wanneer hy sal moet gaan; wanneer hy nie meer vir u as u gids en leier staan nie, omdat God nie bedoel dat hy dit moet wees nie. U sê — "Ek kan nie sonder Elia voortgaan nie." God sê u moet.
Alleen by u Jordaan.
v.14. Jordaan is die tipe van skeiding waar daar geen gemeenskap met enigiemand anders is nie, en waar niemand die verantwoordelikheid vir u kan neem nie. U moet nou op die proef stel wat u geleer het toe u by u Elia was. U was oor en oor saam met Elia by die Jordaan, maar nou staan u alleen daarteenoor. Dit help nie om te sê dat u nie kan gaan nie; hierdie ervaring het gekom, en u moet gaan. As u wil weet of God die God is wat u die geloof het om te glo Hy is, gaan dan alleen deur u Jordaan.
Alleen by u Jerigo.
v.15. Jerigo is die plek waar u u Elia groot dinge sien doen het. By u Jerigo het u ’n sterk onwilligheid om die inisiatief te neem en op God te vertrou, u wil hê iemand anders moet dit vir u neem. As u getrou bly aan wat u saam met Elia geleer het, sal u die teken kry dat God met u is.
Alleen by u Bet-el.
v.23. By u Bet-el sal u uself aan die einde van u vernuf en aan die begin van God se wysheid bevind. Wanneer u aan die einde van u vernuf kom en geneig voel om voor paniek te swig, moenie; staan getrou aan God en Hy sal Sy waarheid na vore bring op ’n wyse wat u lewe ’n sakrament sal maak. Bring in praktyk wat u saam met u Elia geleer het, gebruik sy mantel en bid. Besluit om op God te vertrou en moenie meer na Elia soek nie.