INDIVIDUALITEIT
“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën.”
Matteus 16:24
Individualiteit is die dop van die persoonlike lewe. Individualiteit is geheel en al elmboë, dit skei en isoleer. Dit is die kenmerk van die kind en tereg; maar indien ons individualiteit vir die persoonlike lewe aansien, sal ons geïsoleer bly. Die skulp van individualiteit is God se geskape natuurlike bedekking ter beskerming van die persoonlike lewe; maar individualiteit moet weggaan sodat die persoonlike lewe na vore kan kom en in gemeenskap met God gebring kan word. Individualiteit vervals persoonlikheid soos begeerlikheid liefde vervals. God het die menslike natuur vir Homself ontwerp; individualiteit verlaag die menslike natuur vir homself.
Die kenmerke van individualiteit is onafhanklikheid en selfhandhawing. Dit is die voortdurende handhawing van individualiteit wat ons geestelike lewe meer as enigiets anders verhinder. Indien u sê — "Ek kan nie glo nie," is dit omdat individualiteit in die pad staan; individualiteit kan nooit glo nie. Persoonlikheid kan nie anders as om te glo nie. Hou uself dop wanneer die Gees van God aan die werk is. Hy stoot u na die grense van u individualiteit, en u moet óf sê — "Ek wil nie," óf oorgee, die dop van individualiteit breek en die persoonlike lewe laat verskyn. Die Heilige Gees vernou dit elke keer tot een ding (vgl. Matteus 5:23-24). Die ding in u wat nie met u broer versoen wil word nie is u individualiteit. God wil u in vereniging met Homself bring, maar tensy u gewillig is om u reg op uself prys te gee kan Hy nie. "Laat hy homself verloën" — sy onafhanklike reg op homself verloën, dan het die werklike lewe ’n geleentheid om te groei.