DIE OFFER VAN DIE NATUURLIKE
“Abraham het twee seuns gehad, een by ’n slavin, die ander by ’n vrye vrou.”
Galasiërs 4:22
Paulus behandel nie sonde in hierdie hoofstuk van Galasiërs nie, maar die verhouding van die natuurlike tot die geestelike. Die natuurlike moet deur offer in die geestelike verander word, anders sal ’n geweldige skeiding in die daadwerklike lewe voortgebring word. Waarom sou God verorden dat die natuurlike geoffer moet word? God het nie. Dit is nie God se orde nie, maar Sy toelatende wil. God se orde was dat die natuurlike deur gehoorsaamheid in die geestelike omgevorm moes word; dit is sonde wat dit noodsaaklik gemaak het dat die natuurlike geoffer word.
Abraham moes Ismael offer voordat hy Isak geoffer het. Sommige van ons probeer geestelike offers aan God bring voordat ons die natuurlike geoffer het. Die enigste manier waarop ons ’n geestelike offer aan God kan bring is deur ons liggame as ’n lewende offer aan te bied. Heiligmaking beteken meer as verlossing van sonde, dit beteken die doelbewuste toevertrouing van myself wat God gered het aan God, en dat ek nie omgee wat dit kos nie.
Indien ons die natuurlike nie aan die geestelike offer nie, sal die natuurlike lewe die lewe van die Seun van God in ons bespot en ’n voortdurende wankeling voortbring. Dit is altyd die gevolg van ’n ongedissiplineerde geestelike natuur. Ons gaan verkeerd omdat ons hardnekkig weier om onsself, liggaamlik, moreel of verstandelik te dissiplineer. "Ek is nie gedissiplineer toe ek ’n kind was nie." U moet uself nou dissiplineer. Indien u dit nie doen nie, sal u u hele persoonlike lewe vir God verwoes.
God is nie met ons natuurlike lewe terwyl ons dit vertroetel nie; maar wanneer ons dit in die woestyn uitsit en dit vasbeslote onder hou, dan sal God daarmee wees; en Hy sal putte en oases oopmaak, en al Sy beloftes vir die natuurlike vervul.