PERSOONLIKHEID
“Sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.”
Johannes 17:22
Persoonlikheid is daardie eiesoortige, onberekenbare ding wat bedoel word wanneer ons van onsself as onderskeie van elkeen anders praat. Ons persoonlikheid is altyd te groot vir ons om te begryp. ’n Eiland in die see kan maar die spits van ’n groot berg wees. Persoonlikheid is soos ’n eiland, ons weet niks van die groot dieptes daaronder nie, gevolglik kan ons onsself nie skat nie. Ons begin deur te dink dat ons kan, maar ons kom tot die besef dat daar slegs een Wese is wat ons verstaan, en dit is ons Skepper.
Persoonlikheid is die kenmerk van die geestelike mens soos individualiteit die kenmerk van die natuurlike mens is. Ons Here kan nooit in terme van individualiteit en onafhanklikheid omskryf word nie, maar alleen in terme van persoonlikheid, "Ek en My Vader is een." Persoonlikheid vloei saam, en u bereik u werklike identiteit alleen wanneer u met ’n ander persoon saamvloei. Wanneer liefde, of die Gees van God ’n mens tref, word hy omgevorm, hy dring nie meer op sy afsonderlike individualiteit aan nie. Ons Here het nooit in terme van individualiteit, van ’n mens se "elmboë" of sy geïsoleerde posisie gepraat nie, maar in terme van persoonlikheid — "sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is." Indien u u reg op uself aan God prysgee, antwoord die werklike ware natuur van u persoonlikheid dadelik op God. Jesus Christus bevry die persoonlikheid, en die individualiteit word van gedaante verander; die element wat van gedaante verander is liefde, persoonlike toewyding aan Jesus. Liefde is die uitstorting van een persoonlikheid in gemeenskap met ’n ander persoonlikheid.