Daaglikse oordenking

VOORTDURENDE BEKERING

Tensy julle bekeer word, en soos klein kindertjies word. . . .

Matteus 18:3

Hierdie woorde van Ons Here geld vir ons aanvanklike bekering, maar ons moet al die dae van ons lewens voortdurend bekeer word, ons voortdurend as kinders na God keer. Indien ons op ons vernuf in plaas van op God vertrou, bring ons gevolge voort waarvoor God ons verantwoordelik sal hou. Onmiddellik wanneer ons liggame deur die voorsienigheid van God in nuwe toestande gebring word, moet ons toesien dat ons natuurlike lewe die voorskrifte van die Gees van God gehoorsaam. Dat ons dit eenmaal gedoen het is geen bewys dat ons dit weer sal doen nie. Die verhouding van die natuurlike tot die geestelike is een van voortdurende bekering, en dit is die een ding waarteen ons beswaar maak. In elke omgewing waarin ons geplaas word, bly die Gees van God onveranderd en Sy redding onveranderd, maar ons moet "die nuwe mens aantrek." God hou ons verantwoordelik elke keer wanneer ons weier om onsself te bekeer, ons rede vir die weiering is moedswillige hardnekkigheid. Ons natuurlike lewe moet nie regeer nie, God moet in ons regeer.

Die hindernis in ons geestelike lewe is dat ons nie voortdurend bekeer wil word nie, daar is klonte van hardnekkigheid waar ons trots na die troon van God spoeg en sê — Ek wil nie. Ons vergoddelik onafhanklikheid en eiesinnigheid en noem hulle by die verkeerde naam. Wat God as hardnekkige swakheid beskou, noem ons krag. Daar is hele stroke van ons lewens wat nog nie tot onderwerping gebring is nie, en dit kan alleen deur hierdie voortdurende bekering gedoen word. Stadig maar seker kan ons die hele gebied vir die Gees van God opeis.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in