Daaglikse oordenking

WAAR DIE STRYD VERLOOR EN GEWEN WORD

As jy jou bekeer, o Israel, spreek die Here. . . .

Jeremia 4:1

Die stryd word in die geheime plekke van die wil voor God verloor of gewen, nooit eerste in die uiterlike wêreld nie. Die Gees van God gryp my aan en ek word verplig om alleen met God te kom en die stryd voor Hom uit te veg. Totdat dit gedoen is, verloor ek elke keer. Die stryd kan een minuut of ’n jaar duur, dit sal van my afhang, nie van God nie; maar dit moet alleen voor God uitgeworstel word, en ek moet vasbeslote deur die hel van ’n afstanddoening voor God gaan. Niks het enige mag oor die mens wat die stryd voor God uitgeveg en daar gewen het nie.

Indien ek sê, "Ek sal wag totdat ek in die omstandighede kom en God dan op die proef stel," sal ek ontdek dat ek nie kan nie. Ek moet die saak tussen myself en God besleg kry in die geheime plekke van my siel waar geen vreemdeling hom inmeng nie, en dan kan ek uitgaan met die sekerheid dat die stryd gewen is. Verloor dit daar, en rampspoed en onheil en versteuring is so seker soos God se besluit. Die rede waarom die stryd nie gewen word nie is dat ek dit eerste in die uiterlike wêreld probeer wen. Kom alleen met God, veg dit voor Hom uit, besleg die saak daar eens en vir altyd.

In die handeling met ander mense, is die lyn wat gevolg moet word om hulle tot ’n vraagstuk van die wil te dwing. Dit is die manier waarop teuellose oorgawe begin. Elke nou en dan, nie dikwels nie, maar soms, bring God ons by ’n klimakspunt. Dit is die Groot Waterskeiding in die lewe; vanaf daardie punt gaan ons óf na ’n al hoe meer talmende en nuttelose tipe Christelike lewe, óf ons raak al hoe meer aan die brand vir die heerlikheid van God — My uiterste vir Sy hoogste.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in