IN DIE LIG GEPLAAS
“As ons in die lig wandel, soos Hy in die lig is reinig die bloed van Jesus Christus Sy Seun ons van alle sonde.”
1 Johannes 1:7
Om bewustelike vryheid van sonde aan te sien vir verlossing van sonde deur die Versoening is ’n groot dwaling. Geen mens weet wat sonde is totdat hy wedergebore is nie. Sonde is wat Jesus Christus op Golgota in die gesig gestaar het. Dat ek die werklike natuur van sonde in my ken is die bewys dat ek van sonde verlos is. Dit verg die uiterste reikwydte van die Versoening van Jesus Christus, dit wil sê, die toebedeling van Sy absolute volmaaktheid, om ’n mens te laat weet wat sonde is.
Die Heilige Gees pas die Versoening op ons toe in die onbewuste sfeer sowel as in die sfeer waarvan ons bewus is, en dit is alleen wanneer ons die ongeëwenaarde krag van die Gees in ons begryp dat ons die betekenis van 1 Johannes 1:7 verstaan, "die bloed van Jesus Christus reinig ons van alle sonde." Dit verwys nie alleen na bewustelike sonde nie, maar na die geweldig diepgaande begrip van sonde wat alleen die Heilige Gees in my besef.
Indien ek in die lig wandel soos God in die lig is, nie in die lig van my gewete nie, maar in die lig van God — indien ek daar wandel, met niks weggevou nie, dan kom die verbasingwekkende openbaring, die bloed van Jesus Christus reinig my van alle sonde sodat die Almagtige God niks in my kan sien om te bestraf nie. In my bewussyn werk dit met ’n skerp smartlike kennis van wat sonde is. Die liefde van God wat in my werk laat my met die haat van die Heilige Gees alles haat wat nie met God se heiligheid ooreenstem nie. Om in die lig te wandel beteken dat alles wat uit die duisternis is my nader tot in die middelpunt van die lig dryf.