HOE KAN EK PERSOONLIK AAN DIE VERSOENING DEEL HÊ?
“Maar mag dit nooit gebeur dat ek roem nie behalwe in die kruis van Ons Here Jesus Christus.”
Galasiërs 6:14
Die Evangelie van Jesus Christus dwing altyd ’n vraagstuk van die wil af. Aanvaar ek God se uitspraak oor sonde in die Kruis van Christus? Het ek die geringste belangstelling in die dood van Jesus? Wil ek met Sy dood vereenselwig word, heeltemal doodgemaak word vir alle belangstelling in sonde, in wêreldsgesindheid, in die self — so met Jesus vereenselwig wees dat ek vir alles behalwe Hom bederf is? Die groot voorreg van dissipelskap is dat ek onder Sy Kruis kan aanmonster, en dit beteken die dood vir sonde. Kom alleen met Jesus en sê óf vir Hom dat u nie wil hê sonde moet in u uitsterf nie; óf sê vir Hom dat u teen elke prys met Sy dood vereenselwig wil word. Onmiddellik wanneer u in vertrouende geloof ’n transaksie aangaan op grond van wat Ons Here aan die Kruis gedoen het, vind ’n bonatuurlike vereenselwiging met Sy dood plaas, en u sal met ’n kennis wat kennis te bowe gaan weet dat u "ou mens" saam met Christus gekruisig is. Die bewys dat u ou mens saam met Christus gekruisig is is die verbasingwekkende gemak waarmee die lewe van God in u u in staat stel om die stem van Jesus Christus te gehoorsaam.
Elke nou en dan, laat Ons Here ons sien hoe ons sonder Homself sou wees; dit is ’n regverdiging van wat Hy gesê het — "Sonder My kan julle niks doen nie." Daarom is die vaste rotsbodem van die Christendom persoonlike, hartstogtelike toewyding aan die Here Jesus. Ons sien die ekstase van ons eerste inleiding in die Koninkryk aan vir God se doel om ons daar te kry; Sy doel om ons daar te kry is dat ons alles kan besef wat vereenselwiging met Jesus Christus beteken.