Daaglikse oordenking

DIE VERBORGE LEWE

Julle lewe is saam met Christus verborge in God.

Kolossense 3:3

Die Gees van God getuig van die eenvoudige almagtige veiligheid van die lewe wat saam met Christus in God verborge is en dit word voortdurend in die Briewe na vore gebring. Ons praat asof dit die mees onsekere ding is om die geheiligde lewe te leef; dit is die veiligste ding, omdat dit die Almagtige God in en agter hom het. Die mees onsekere ding is om sonder God te probeer leef. Vir wedergeborenes is dit die maklikste ding om in ’n regte verhouding met God te leef en die moeilikste ding om verkeerd te gaan, indien ons maar net op God se waarskuwings ag slaan en in die lig bly.

Wanneer ons daaraan dink om van sonde verlos te wees, met die Gees vervul te wees, en in die lig te wandel, stel ons ons die spits van ’n groot berg voor, baie hoog en wonderlik, en ons sê — "O, maar ek sou nooit daar bo kon leef nie!" Maar wanneer ons wel deur God se genade daar kom, ontdek ons dat dit nie ’n bergspits is nie, maar ’n plato waar daar ruim plek is om te leef en te groei. "U het my treë onder my verruim."

Wanneer u Jesus werklik sien, daag ek u uit om aan Hom te twyfel. Wanneer Hy sê — "Laat u hart nie ontsteld word nie," daag ek u uit om u denke te ontstel indien u Hom sien, dit is ’n morele onmoontlikheid om te twyfel wanneer Hy daar is. Elke keer wanneer u in persoonlike aanraking met Jesus kom, is Sy woorde werklik. "My vrede gee Ek aan julle," dit is ’n vrede oraloor van die kruin van die hoof tot die sool van die voete, ’n ononderdrukbare vertroue. "Julle lewe is saam met Christus verborge in God," en die onverstoorbare vrede van Jesus Christus word aan u toebedeel.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in