DIE TREKKING VAN DIE VADER
“Niemand kan na My toe kom tensy die Vader wat My gestuur het, hom trek nie.”
Johannes 6:44
Wanneer God my trek, kom die vraagstuk van my wil dadelik ter sprake — sal ek reageer op die openbaring wat God gee — sal ek na Hom toe kom? Bespreking oor geestelike sake is ’n vermetelheid. Moet nooit met enigiemand bespreek wanneer God praat nie. Geloof is nie ’n intellektuele daad nie; geloof is ’n morele daad waardeur ek myself doelbewus toevertrou. Sal ek myself absoluut op God neersmyt en gaan ’n transaksie aan op grond van wat Hy sê? Indien ek wil, sal ek ontdek dat ek gegrond is op Werklikheid wat so seker soos God se troon is.
In die prediking van die evangelie, dwing altyd ’n vraagstuk van die wil af. Geloof moet die wil wees om te glo. Daar moet ’n oorgawe van die wil wees, nie ’n oorgawe aan oorredingskrag nie, ’n doelbewuste voortlansering op God en op wat Hy sê totdat ek nie meer vertroue het in wat ek gedoen het nie, maar alleen vertroue in God het. Die hindernis is dat ek God nie wil vertrou nie, maar alleen my verstandelike begrip. Wat gevoelens betref, moet ek alles blindelings op die spel plaas. Ek moet wil om te glo, en dit kan nooit gedoen word sonder ’n gewelddadige inspanning van my kant om my van my ou maniere om na dinge te kyk los te maak, en myself geheel en al op Hom te plaas nie.
Elke mens is gemaak om uit te reik tot buite wat hy kan aangryp. Dit is God wat my trek, en my verhouding met Hom is in die eerste plek ’n persoonlike een, nie ’n intellektuele een nie. Ek word deur die wonder van God en my eie wil om te glo in die verhouding ingelei, dan begin ek ’n intelligente waardering en begrip van die wonder van die transaksie kry.