Daaglikse oordenking

ERVARING OF OPENBARING

Ons het ontvang . . . die Gees wat uit God is; sodat ons die dinge kan weet wat vrylik deur God aan ons gegee is.

1 Korintiërs 2:12

Werklikheid is Verlossing, nie my ervaring van Verlossing nie; maar Verlossing het vir my geen betekenis totdat dit die taal praat van my bewustelike lewe nie. Wanneer ek wedergebore word, neem die Gees van God my reguit uit myself en my ervarings uit, en vereenselwig my met Jesus Christus. Indien ek met my ervarings agtergelaat word, is my ervarings nie deur Verlossing voortgebring nie. Die bewys dat hulle deur Verlossing voortgebring is, is dat ek die hele tyd uit myself uitgelei word ek gee nie meer enige aandag aan my ervarings as die grondslag van Werklikheid nie, maar alleen aan die Werklikheid wat die ervarings voortgebring het. My ervarings is niks werd tensy hulle my by die Bron, Jesus Christus hou nie.

Indien u die Heilige Gees in u probeer opdam om subjektiewe ervarings voort te bring, sal u ontdek dat Hy deur alle grense sal bars en u weer na die historiese Christus sal terugneem. Moet nooit ’n ervaring voed wat nie God as sy Bron en geloof in God as sy resultaat het nie. Indien u dit doen, is u ervaring anti-Christelik, ongeag watter visioene u moontlik gehad het. Is Jesus Christus Here van u ervarings, of probeer u oor Hom heers? Is enige ervaring vir u dierbaarder as u Here? Hy moet Here oor u wees, en u moet geen aandag gee aan enige ervaring waaroor Hy nie Here is nie. Daar kom ’n tyd wanneer God u ongeduldig met u eie ervaring sal maak — Ek gee nie om wat ek ervaar nie; ek is seker van Hom.

Wees meedoënloos met uself indien u geneig is om te praat oor die ervarings wat u gehad het. Geloof wat seker is van homself is nie geloof nie; geloof wat seker is van God is die enigste geloof wat bestaan.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in