DIE ONPARTYDIGE KRAG VAN GOD
“Want deur een offer het Hy dié wat geheilig word vir altyd vervolmaak.”
Hebreërs 10:14
Ons vertrap die bloed van die Seun van God indien ons dink dat ons vergewe word omdat ons bedroef is oor ons sondes. Die enigste verklaring van die vergifnis van God en van die onpeilbare diepte van Sy vergeet is die Dood van Jesus Christus. Ons inkeer is bloot die uitvloeisel van ons persoonlike besef van die Versoening wat Hy vir ons uitgewerk het. "Christus Jesus . . . is vir ons gemaak tot wysheid, en geregtigheid, en heiligmaking, en verlossing." Wanneer ons besef dat Christus dit alles vir ons gemaak is, begin die grenslose vreugde van God; oral waar die vreugde van God nie teenwoordig is nie, is die doodsvonnis aan die werk.
Dit maak nie saak wie of wat ons is nie, daar is volstrekte herstelling tot in God deur die dood van Jesus Christus en op geen ander manier nie, nie omdat Jesus Christus pleit nie, maar omdat Hy gesterf het. Dit word nie verdien nie, maar aanvaar. Al die pleit wat doelbewus weier om die Kruis te erken is tevergeefs; dit is ’n gebeuk aan ’n ander deur as die een wat Jesus oopgemaak het. Ek wil nie langs daardie weg kom nie, dit is te vernederend om as ’n sondaar ontvang te word. "Daar is geen ander Naam nie . . ." Die skynbare harteloosheid van God is die uitdrukking van Sy werklike hart, daar is grenslose toegang langs Sy weg. "Ons het vergifnis deur Sy bloed." Vereenselwiging met die dood van Jesus Christus beteken vereenselwiging met Hom tot die dood van alles wat nooit in Hom was nie.
God word slegs daarin geregverdig om slegte mense te red dat Hy hulle goed maak. Ons Here gee nie voor dat ons heeltemal reg is wanneer ons heeltemal verkeerd is nie. Die Versoening is ’n versoeningsoffer waardeur God deur die dood van Jesus ’n onheilige mens heilig maak.