INKEER
“Want droefheid volgens die wil van God bewerk inkeer tot redding.”
2 Korintiërs 7:10
Oortuiging van sonde word die beste in die volgende woorde uitgebeeld —
"My sondes, my sondes, my Verlosser,
Hoe droef val hulle op U neer." Oortuiging van sonde is een van die skaarsste dinge wat ’n mens ooit tref. Dit is die drumpel van ’n begrip van God. Jesus Christus het gesê dat wanneer die Heilige Gees kom sal Hy van sonde oortuig, en wanneer die Heilige Gees ’n mens se gewete wakker maak en hom in die teenwoordigheid van God bring, is dit nie sy verhouding met mense wat hom kwel nie, maar sy verhouding met God — "teen U, U alleen, het ek gesondig, en gedoen wat kwaad is in U oë." Die wonders van oortuiging van sonde, vergifnis, en heiligheid is so verweef dat dit alleen die vergewe mens is wat die heilige mens is, hy bewys dat hy vergewe is deur die teenoorgestelde te wees van wat hy was, deur God se genade. Inkeer bring ’n mens altyd by hierdie punt: Ek het gesondig. Die sekerste teken dat God aan die werk is is wanneer ’n mens dit sê en dit bedoel. Enigiets minder as dit is spyt omdat hy flaters begaan het, die refleksreaksie van walging van homself.
Die ingang tot die Koninkryk is deur die skrynende pyne van inkeer wat teen ’n mens se respektabele goedheid aanbots; dan begin die Heilige Gees, wat hierdie smarte voortbring, met die vorming van die Seun van God in die lewe. Die nuwe lewe sal hom in bewustelike inkeer en onbewuste heiligheid openbaar, nooit andersom nie. Die vaste rotsbodem van die Christendom is inkeer. Streng gesproke, kan ’n mens nie tot inkeer kom wanneer hy verkies nie; inkeer is ’n gawe van God. Die ou Puriteine het gewoonlik gebid om "die gawe van trane." Indien u ooit ophou om die deug van inkeer te ken, is u in duisternis. Ondersoek uself en kyk of u vergeet het hoe om bedroef te wees.