DIE BOOG IN DIE WOLK
“Ek plaas My boog in die wolk, en dit sal ’n teken wees van ’n verbond tussen My en die aarde.”
Genesis 9:13
Dit is die Wil van God dat mense in ’n morele verhouding met Hom moet kom, en Sy verbonde is vir hierdie doel. Waarom red God my nie? Hy het my gered, maar ek het nie in verhouding met Hom getree nie. Waarom doen God nie dit en dat nie? Hy het dit gedoen, die punt is — Sal ek in ’n verbondsverhouding instap? Al die groot seëninge van God is afgehandel en voltooi, maar hulle is nie myne totdat ek op grond van Sy verbond in verhouding met Hom tree nie.
Om vir God te wag is vleesgeworde ongeloof, dit beteken dat ek geen geloof in Hom het nie; ek wag dat Hy iets in my doen waarop ek kan vertrou. God sal dit nie doen nie, omdat dit nie die grondslag van die God-en-mens-verhouding is nie. Die mens moet in sy verbond met God uit homself uitgaan soos God in Sy verbond met die mens uit Homself uitgaan. Dit is ’n vraag van geloof in God — die skaarsste ding; ons het slegs geloof in ons gevoelens. Ek glo God nie tensy Hy my iets in my hand gee waardeur ek kan weet dat ek dit het nie, dan sê ek — "Nou glo ek." Daar is geen geloof daarin nie. "Kyk na My, en word gered."
Wanneer ek werklik op grond van Sy verbond ’n transaksie met God aangegaan en geheel en al losgelaat het, is daar geen besef van verdienste, hoegenaamd geen menslike bestanddeel daarin nie, maar ’n volkome oorweldigende besef dat ek in vereniging met God gebring is, en die hele saak word deur vrede en vreugde van gedaante verander.