DIE TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES
“Alleen wat die troon betref sal ek groter as jy wees.”
Genesis 41:40
Ek moet teenoor God rekenskap gee van die manier waarop ek my liggaam onder Sy oorheersing regeer. Paulus het gesê dat hy nie "die genade van God verydel" — dit kragteloos maak nie. Die genade van God is absoluut, die redding van Jesus is volmaak, dit is vir ewig gedoen. Ek word nie gered nie, ek is gered; redding is so ewig soos God se troon; wat ek moet doen is om uit te werk wat God inwerk. "Werk julle eie redding uit," ek is verantwoordelik om dit te doen. Dit beteken dat ek in hierdie liggaam die lewe van die Here Jesus moet openbaar, nie mistiek nie, maar werklik en nadruklik. "Ek hou my liggaam onder, en bring dit tot onderwerping." Elke heilige kan sy liggaam vir God onder absolute beheer hê. God het ons gemaak om heerskappy oor die hele tempel van die Heilige Gees te hê, oor verbeeldinge en geneenthede. Ons is hiervoor verantwoordelik, en ons moet nooit aan buitensporige geneenthede toegee nie. Die meeste van ons is baie strenger met ander as wat ons met betrekking tot onsself is; ons maak verskonings vir dinge in onsself terwyl ons in ander dinge veroordeel waartoe ons nie van nature geneig is nie.
"Ek vermaan julle," sê Paulus, "stel julle liggame as ’n lewende offer." Die punt waaroor besluit moet word is dit — "Stem ek met my Here en Meester ooreen dat my liggaam Sy tempel sal wees?' Indien wel, dan word die hele wet vir die liggaam vir my saamgevat in hierdie openbaring, dat my liggaam die tempel van die Heilige Gees is.