DIE WET VAN ANTAGONISME
“Aan hom wat oorwin. . . .”
Openbaring 2:7
Lewe sonder oorlog is óf in die natuur óf in die genade onmoontlik. Die grondslag van die liggaamlike, verstandelike, morele, en geestelike lewe is antagonisme. Dit is die openlike feit van die lewe.
Gesondheid is die ewewig tussen die liggaamlike lewe en die uiterlike natuur, en dit word alleen deur voldoende lewenskrag aan die binnekant teen dinge aan die buitekant gehandhaaf. Alles buite my liggaamlike lewe is ontwerp om my dood te maak. Dinge wat my aan die gang hou wanneer ek lewe, laat my uiteenval wanneer ek dood is. Indien ek genoeg strydkrag het, bring ek die ewewig van gesondheid voort. Dieselfde geld vir die verstandelike lewe. Indien ek ’n kragtige verstandelike lewe wil handhaaf, moet ek stry, en op daardie manier word die verstandelike ewewig wat denke genoem word voortgebring.
Moreel is dit dieselfde. Alles wat nie deel het aan die natuur van deug nie is die vyand van deug in my, en of ek oorwin en deug voortbring hang af van watter morele kaliber ek het. Onmiddellik wanneer ek stry, is ek in daardie bepaalde besonderheid moreel. Geen mens is deugsaam omdat hy nie anders kan nie; deug word verwerf.
En geestelik is dit dieselfde. Jesus het gesê, "In die wêreld sal julle verdrukking hê," d.w.s., alles wat nie geestelik is nie werk tot my ondergang, maar — "Hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin." Ek moet leer om punte aan te teken teen die dinge wat teen my kom, en op daardie manier die ewewig van heiligheid voortbring; dan word dit ’n vreugde om teenstand te ontmoet.
Heiligheid is die ewewig tussen my aard en die wet van God soos dit in Jesus Christus uitgedruk is.