CHRISTELIKE VOLMAAKTHEID
“Nie dat ek dit al verkry het, of reeds volmaak is nie. . . .”
Filippense 3:12
Dit is ’n strik om u te verbeel dat God ons volmaakte eksemplare wil maak van wat Hy kan doen; God se voorneme is om ons een met Homself te maak. Die nadruk van heiligheidsbewegings is maklik dat God eksemplare van heiligheid voortbring om in Sy museum te plaas. Indien u op hierdie idee van persoonlike heiligheid weggaan, sal die vaste koers van u lewe nie op God gerig wees nie, maar op wat u die openbaring van God in u lewe noem. "Dit kan nooit God se wil wees dat ek siek moet wees nie." Indien dit God se wil was om Sy eie Seun te verbrysel, waarom sou Hy u nie verbrysel nie? Die ding wat vir God tel is nie u relevante konsekwentheid aan ’n idee van wat ’n heilige behoort te wees nie, maar u werklike lewenskragtige verhouding met Jesus Christus en u teuellose oorgawe aan Hom, of u gesond of siek is.
Christelike volmaaktheid is nie, en kan nooit, menslike volmaaktheid wees nie. Christelike volmaaktheid is die volmaaktheid van ’n verhouding met God wat hom te midde van die irrelevansies van die menslike lewe vertoon. Wanneer u die roepstem van Jesus Christus gehoorsaam, is die eerste ding wat u tref die irrelevansie van die dinge wat u moet doen, en die volgende ding wat u tref die feit dat ander mense skynbaar volmaak konsekwente lewens lei. Sulke lewens laat u maklik met die idee dat God onnodig is, deur menslike inspanning en toewyding kan ons die maatstaf bereik wat God wil hê. In ’n gevalle wêreld kan dit nooit gedoen word nie. Ek word geroep om in volmaakte verhouding met God te leef sodat my lewe in ander lewens ’n verlange na God voortbring, nie bewondering vir myself nie. Gedagtes oor myself verhinder my nuttigheid vir God. God is nie daarop uit om my te vervolmaak tot ’n eksemplaar in Sy vertoonlokaal nie; Hy bring my by die plek waar Hy my kan gebruik. Laat Hom doen wat Hy wil.