Daaglikse oordenking

DIE WET EN DIE EVANGELIE

Want wie die hele wet onderhou, maar in een punt struikel, is aan almal skuldig

Jakobus 2:10

Die morele wet beskou ons glad nie as swak mense nie, dit hou geen rekening met ons oorerwing en swakhede nie, dit eis dat ons absoluut moreel moet wees. Die morele wet verander nooit, óf vir die edelste óf vir die swakste nie, dit is ewig en blywend dieselfde. Die morele wet wat deur God verorden is maak homself nie swak vir die swakkes nie, dit vergoelik nie ons tekortkominge nie, dit bly absoluut vir alle tyd en ewigheid. Indien ons dit nie besef nie, is dit omdat ons minder as lewend is; onmiddellik wanneer ons lewend is, word die lewe ’n tragedie. "Sonder die wet het ek eenmaal gelewe: maar toe die gebod kom, het die sonde herlewe, en ek het gesterwe." Wanneer ons dit besef, dan oortuig die Gees van God ons van sonde. Totdat ’n mens daar kom en sien dat daar geen hoop is nie, is die Kruis van Jesus Christus vir hom ’n klug. Oortuiging van sonde bring altyd ’n vreeslike bindende besef van die wet, dit maak ’n mens hopeloos — "onder die sonde verkoop." Ek, ’n skuldige sondaar, kan nooit reg met God kom nie, dit is onmoontlik. Daar is slegs een manier waarop ek reg met God kan kom, en dit is deur die Dood van Jesus Christus. Ek moet ontslae raak van die skuilende idee dat ek ooit vanweë my gehoorsaamheid reg met God kan wees — wie van ons sou God ooit tot absolute volmaaktheid kon gehoorsaam!

Ons besef die krag van die morele wet alleen wanneer dit kom met ’n "indien." God dwing ons nooit. In die een stemming wens ons Hy sou ons die ding laat doen, en in ’n ander stemming wens ons Hy sou ons met rus laat. Wanneer God se wil ook al die oorhand het, is alle dwang weg. Wanneer ons doelbewus kies om Hom te gehoorsaam, dan sal Hy die verste ster en die laaste sandkorrel belas om ons met al Sy almagtige krag by te staan.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in