DEUR DIE GENADE VAN GOD IS EK WAT EK IS
“Sy genade wat aan my geskenk is was nie tevergeefs nie.”
1 Korintiërs 15:10
Die manier waarop ons voortdurend oor ons eie onvermoë praat is ’n belediging vir die Skepper. Die bejammering van ons eie onbekwaamheid is laster teen God as sou Hy ons misgekyk het. Maak ’n gewoonte daarvan om in die aangesig van God die dinge te ondersoek wat voor mense nederig klink, en u sal verstom wees oor hoe verbysterend vermetel hulle is. "O, ek sou nie graag wou sê ek is geheilig nie; ek is nie ’n heilige nie." Sê dit voor God; en dit beteken — "Nee, Here, dit is vir U onmoontlik om my te red en te heilig; daar is geleenthede wat ek nie gehad het nie; soveel onvolmaakthede in my brein en liggaam; nee, Here, dit is nie moontlik nie." Dit kan wonderbaarlik nederig voor mense klink, maar voor God is dit ’n houding van verset.
Daarteenoor, kan die dinge wat voor God nederig klink voor mense die teenoorgestelde klink. Om te sê Dank God, ek weet ek is gered en geheilig is in die aangesig van God die toppunt van nederigheid, dit beteken dat u uself so volkome teuelloos aan God oorgegee het dat u weet Hy is waaragtig. Moet u nooit daaroor kwel of wat u sê voor mense nederig klink of nie, maar wees altyd nederig voor God, en laat Hom alles in almal wees.
Daar is slegs een verhouding wat saak maak, en dit is u persoonlike verhouding met ’n persoonlike Verlosser en Here. Laat al die ander gaan, maar handhaaf dit teen elke prys, en God sal Sy voorneme deur u lewe vervul. Een individuele lewe kan vir God se voornemens van onskatbare waarde wees, en u s’n kan daardie lewe wees.