DIE OORVLOED VAN DIE BEROOIDE
“Omdat ons sonder verdienste deur Sy genade geregverdig word. . .”
Romeine 3:24
Die Evangelie van die genade van God wek ’n intense verlange in menslike siele en ’n ewe intense weersin, omdat die openbaring wat dit bring nie smaaklik is nie. Daar is ’n bepaalde trots in die mens wat sal gee en gee, maar om te kom en te aanvaar is iets anders. Ek sal my lewe aan martelaarskap gee, ek sal myself in toewyding gee, ek sal enigiets doen, maar moenie my verneder tot die vlak van die mees helverdienende sondaar en vir my sê dat al wat ek moet doen is om die gawe van redding deur Jesus Christus te aanvaar nie.
Ons moet besef dat ons niks van God kan verdien of verwerf nie; ons moet dit óf as ’n gawe ontvang óf daarsonder klaarkom. Die grootste geestelike seën is die wete dat ons berooid is; totdat ons daar kom is Ons Here magteloos. Hy kan niks vir ons doen indien ons dink dat ons uit onsself toereikend is nie, ons moet deur die deur van berooiing in Sy Koninkryk ingaan. Solank ons ryk is, in besit van enigiets in die vorm van trots of onafhanklikheid, kan God niks vir ons doen nie. Dit is slegs wanneer ons geestelik honger word dat ons die Heilige Gees ontvang. Die gawe van die wesenlike natuur van God word deur die Heilige Gees in ons effektief gemaak, Hy bedeel die lewendmakende lewe van Jesus aan ons toe, wat "die daarbuite" binne-in plaas, en onmiddellik wanneer "die daarbuite" na binne gekom het, styg dit op na "die daarbo," en ons word opgehef in die domein waar Jesus leef. (Johannes 3:5.)