DIE KONSENTRASIE VAN GEESTELIKE ENERGIE
“. . . behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus.”
Galasiërs 6:14
Indien u die energie van God (d.w.s., die opstandingslewe van Jesus) in u sterflike vlees wil ken, moet u oor die tragedie van God peins. Sny uself af van bemoeisieke persoonlike belangstelling in u eie geestelike simptome en beskou God se tragedie met blote gees, en onmiddellik sal die energie van God in u wees. "Kyk na My," gee aandag aan die objektiewe Bron en die subjektiewe energie sal daar wees. Ons verloor krag indien ons nie op die regte ding konsentreer nie. Die uitwerking van die Kruis is redding, heiligmaking, genesing, ens., maar ons moet geeneen hiervan verkondig nie, ons moet Jesus Christus en Hom as gekruisigde verkondig. Die verkondiging van Jesus sal sy eie werk doen. Konsentreer in u prediking op God se middelpunt, en hoewel u skare skynbaar geen aandag gee nie, kan hulle nooit weer dieselfde wees nie. Indien ek my eie woorde praat, is dit vir u van niks meer belang as wat u woorde vir my is nie; maar indien ek die waarheid van God praat, sal u dit weer teëkom en ek ook. Ons moet op die groot punt van geestelike energie konsentreer — die Kruis, om in aanraking te bly met daardie middelpunt waar al die krag lê, en die energie sal losgelaat word. In heiligheidsbewegings en geestelike-ervaringbyeenkomste word die konsentrasie maklik nie op die Kruis van Christus geplaas nie, maar op die uitwerkings van die Kruis.
Die swakheid van die kerke word vandag gekritiseer, en die kritiek is geregverdig. Een rede vir die swakheid is dat daar nie hierdie konsentrasie van geestelike energie was nie; ons het nie genoeg oor die tragedie van Golgota of oor die betekenis van Verlossing gepeins nie.