DIE RIGTING VAN STREWE
“Kyk, soos die oë van dienaars na die hand van hulle meesters kyk . . . so wag ons oë op die Here onse God.”
Psalms 123:2
Hierdie vers is ’n beskrywing van volkome afhanklikheid van God. Net soos die oë van die dienaar op sy meester vasgenael is, so is ons oë na God opgehef en word kennis van Sy aangesig verkry (vgl. Jesaja 53:1. R.V). Geestelike lekkasie begin wanneer ons ophou om ons oë na Hom op te hef. Die lekkasie kom nie soseer deur moeilikheid aan die buitekant nie as in die verbeelding; wanneer ons begin sê — "Ek verwag ek het myself ’n bietjie te ver uitgestrek, op my tone gestaan en probeer om soos God te lyk in plaas daarvan om ’n gewone nederige mens te wees." Ons moet besef dat geen inspanning te hoog kan wees nie.
Byvoorbeeld, het u by ’n krisis gekom toe u vir God standpunt ingeneem en die getuienis van die Gees gehad het dat alles reg was, maar die weke het verbygegaan, en miskien die jare, en u kom stadig tot die gevolgtrekking — 'Wel, was ek per slot van rekening, nie ’n bietjie te aanmatigend nie? Het ek nie ’n bietjie te hoë standpunt ingeneem nie?' U rasionele vriende kom en sê — Moenie ’n dwaas wees nie, toe u oor hierdie geestelike ontwaking gepraat het, het ons geweet dat dit ’n verbygaande impuls was, u kan die spanning nie volhou nie, God verwag dit nie van u nie. En u sê — Wel, ek veronderstel ek het te veel verwag. Dit klink nederig om dit te sê, maar dit beteken dat afhanklikheid van God weggegaan en afhanklikheid van wêreldse mening ingekom het. Die gevaar is dat u terwyl u nie meer op God vertrou nie nalaat om u oë na Hom op te hef. Eers wanneer God u skielik tot stilstand bring, sal u besef hoe u verlies gely het. Wanneer daar ook al ’n lekkasie is, herstel dit onmiddellik. Erken dat iets tussen u en God ingekom het, en laat dit dadelik weer regstel.