ONDIEP EN DIEPGAAND
“Of julle dan eet, of drink, of wat julle ook al doen, doen alles tot verheerliking van God.”
1 Korintiërs 10:31
Pas op dat u uself nie toelaat om te dink dat die ondiepe aangeleenthede van die lewe nie deur God verorden is nie; hulle is net soseer uit God as die diepgaande. Dit is nie u toewyding aan God wat u laat weier om ondiep te wees nie, maar u begeerte om ander mense te beïndruk met die feit dat u nie ondiep is nie, wat ’n vaste teken is dat u ’n geestelike pedant is. Pas op vir die voortbrenging van minagting in uself, dit kom altyd langs hierdie lyn, en laat u rondgaan as ’n wandelende teregwysing vir ander mense omdat hulle ondieper as u is. Pas op dat u u nie as ’n diepgaande persoon voordoen nie; God het ’n Baba geword.
Om ondiep te wees is nie ’n teken daarvan om boos te wees nie, en ondiepte is ook nie ’n teken dat daar geen dieptes is nie: die oseaan het ’n strand. Die ondiepe genoegens van die lewe, eet en drink, loop en praat, is almal deur God verorden. Dit is die dinge waarin Ons Here geleef het. Hy het daarin as die Seun van God geleef, en Hy het gesê dat "die dissipel nie bo sy Meester is nie."
Ons beveiliging lê in die ondiepe dinge. Ons moet die oppervlakkige gesondeverstandslewe op ’n gesondeverstandswyse leef; wanneer die dieper dinge kom, gee God hulle aan ons los van die ondiepe aangeleenthede. Moet nooit die dieptes aan enigiemand behalwe God wys nie. Ons is so afskuwelik ernstig, so wanhopig geïnteresseerd in ons eie karakters, dat ons weier om ons in die ondiepe aangeleenthede van die lewe soos Christene te gedra.
Neem vasbeslote niemand behalwe God ernstig op nie, en die eerste persoon wat u ontdek u streng alleen moet laat as die grootste bedrieër wat u ooit geken het, is uself.