DIT IS VOLBRING
“Ek het die werk volbring wat U My gegee het om te doen.”
Johannes 17:4
Die Dood van Jesus Christus is die uitvoering in die geskiedenis van die eie Denke van God. Daar is geen ruimte om Jesus Christus as ’n martelaar te beskou nie; Sy dood was nie iets wat met Hom gebeur het en voorkom kon gewees het nie: Sy dood was juis die rede waarom Hy gekom het.
Moet nooit u prediking van vergifnis bou op die feit dat God ons Vader is en dat Hy ons sal vergewe omdat Hy ons liefhet nie. Dit is ontrou aan Jesus Christus se openbaring van God; dit maak die Kruis onnodig, en die Verlossing "’n groot bohaai oor niks." Indien God sonde wel vergewe, is dit vanweë die Dood van Christus. God kon mense op geen ander manier vergewe as deur die dood van Sy Seun nie, en Jesus is vanweë Sy dood verhef om Verlosser te wees. "Ons sien Jesus vanweë die lyding van die dood, met heerlikheid en eer gekroon." Die grootste noot van triomf wat ooit in die ore van ’n verskrikte heelal weerklink het was dié wat aan die Kruis van Christus weerklink het — "Dit is volbring." Dit is die laaste woord in die Verlossing van die mens.
Enigiets wat die heiligheid van God deur ’n valse siening van die liefde van God verkleineer of uitwis, is ontrou aan die openbaring van God wat deur Jesus Christus gegee is. Moet nooit die gedagte toelaat dat Jesus Christus uit medelye en ontferming saam met ons teen God staan nie; dat Hy uit meegevoel met ons ’n vloek vir ons geword het nie. Jesus Christus het deur die Goddelike besluit ’n vloek vir ons geword. Ons aandeel in die besef van die verskriklike betekenis van die vloek is oortuiging van sonde, die gawe van skaamte en boetvaardigheid word aan ons gegee — dit is die groot barmhartigheid van God. Jesus Christus haat die verkeerde in die mens, en Golgota is die raming van Sy haat.