WAT GAAN DIT JOU AAN?
“Here, wat sal hierdie man doen? . . Wat gaan dit jou aan? Volg jy My.”
Johannes 21:21, 22
Een van ons strengste lesse kom uit die hardnekkige weiering om in te sien dat ons nie in ander mense se lewens moet inmeng nie. Dit neem lank om die gevaar te besef om ’n amateur-Voorsienigheid te wees, dit wil sê, om met God se orde vir ander in te meng. U sien ’n bepaalde persoon ly, en u sê — Hy sal nie ly nie, en ek sal toesien dat hy nie ly nie. U sit u hand reg voor God se toelatende wil om dit te verhinder, en God sê — "Wat gaan dit jou aan?" Indien daar geestelik stagnasie is, moet u dit nooit laat voortgaan nie, maar in God se teenwoordigheid ingaan en die rede daarvoor uitvind. Moontlik sal u ontdek dat dit is omdat u in die lewe van ’n ander ingemeng het; dinge voorgestel het wat u geen reg gehad het om voor te stel nie; raad gegee het toe u geen reg gehad het om raad te gee nie. Wanneer u wel aan ’n ander raad moet gee, sal God deur u raad gee met die direkte begrip van Sy Gees; u deel is om so in ’n regte verhouding tot God te staan dat Sy onderskeiding die hele tyd deur u kom tot seën van ’n ander siel.
Die meeste van ons leef aan die grense van bewussyn — ons dien bewustelik, is bewustelik aan God toegewy. Dit alles is onvolwasse, dit is nog nie die werklike lewe nie. Die volwasse stadium is die lewe van ’n kind wat nooit bewus is nie; ons raak so teuelloos aan God oorgegee dat die bewussyn daarvan om gebruik te word nooit binnekom nie. Wanneer ons bewustelik as gebreekte brood en uitgestorte wyn gebruik word, is daar nog ’n stadium wat bereik moet word, waar alle bewussyn van onsself en van wat God deur ons doen uitgeskakel is. ’n Heilige is nooit bewustelik ’n heilige nie; ’n heilige is bewustelik van God afhanklik.