OM GODDELIKE ONTWERPE TE ONTDEK
“Terwyl ek op pad was, het die Here my gelei. . .”
Genesis 24:27
Ons moet so een met God wees dat ons nie voortdurend om leiding hoef te vra nie. Heiligmaking beteken dat ons die kinders van God gemaak word, en die natuurlike lewe van ’n kind is gehoorsaamheid — totdat hy ongehoorsaam wil wees, dan is daar onmiddellik die intuïtiewe skok. In die geestelike domein is die intuïtiewe skok die waarskuwing van die Gees van God. Wanneer Hy die remming gee, moet ons dadelik stop en in die gees van ons denke vernuwe word om uit te vind wat God se wil is. Indien ons uit die Gees van God wedergebore is, is dit die misgeboorte van vroomheid om God te vra om ons hierheen en daarheen te lei. "Die Here het my gelei," en wanneer ons terugkyk, sien ons die teenwoordigheid van ’n verbasingwekkende ontwerp wat ons, indien ons uit God gebore is, aan God sal toeskryf.
Ons kan almal God in buitengewone dinge sien, maar dit vereis die kultuur van geestelike dissipline om God in elke besonderheid te sien. Moet nooit toelaat dat die lukrake enigiets minder as God se bepaalde orde is nie, en wees gereed om die Goddelike ontwerpe op enige plek te ontdek.
Pas op dat u nie ’n fetisj maak van konsekwentheid aan u oortuigings in plaas daarvan om aan God toegewy te wees nie. Ek sal dit nooit doen nie — in alle waarskynlikheid sal u moet, indien u ’n heilige is. Daar was nooit ’n meer inkonsekwente Wese op hierdie aarde as Ons Here nie, maar Hy was nooit inkonsekwent teenoor Sy Vader nie. Die een konsekwentheid van die heilige is nie aan ’n beginsel nie, maar aan die Goddelike lewe. Dit is die Goddelike lewe wat voortdurend meer en meer ontdekkings aangaande die Goddelike denke maak. Dit is makliker om ’n fanatikus as ’n getroue siel te wees, omdat daar iets verbasingwekkend nederigmakends is, veral vir ons godsdienstige verwaandheid, in lojaliteit aan God.