GELOOF EN ERVARING
“Die Seun van God, wat my liefgehad het, en Homself vir my gegee het.”
Galasiërs 2:20
Ons moet ons deur ons stemminge heen beveg tot absolute toewyding aan die Here Jesus, om uit die gat-en-hoek-saak van ons ervaring uit te kom tot teuellose toewyding aan Hom. Dink Wie die Nuwe Testament sê Jesus Christus is, en dink dan aan die veragtelike geringheid van die ellendige geloof wat ons het — Ek het nie hierdie en daardie ervaring gehad nie! Dink wat geloof in Jesus Christus opeis — dat Hy ons onberispelik voor die troon van God kan stel, onuitspreeklik rein, absoluut reggestel en diepgaande geregverdig. Staan in implisiete aanbiddende geloof in Hom, Hy is vir ons gemaak tot "wysheid, en geregtigheid, en heiligmaking, en verlossing." Hoe kan ons praat van ’n offer bring vir die Seun van God! Ons redding is uit die hel en verderf, en dan praat ons van offers bring!
Ons moet voortdurend uitkom in geloof in Jesus Christus; nie ’n biduur-Jesus Christus nie, ook nie ’n boek-Jesus Christus nie, maar die Nuwe-Testamentiese Jesus Christus, wat die mensgeworde God is, en wat ons soos dooies aan Sy voete behoort neer te slaan. Ons geloof moet in die Een wees uit wie ons ervaring ontspring. Jesus Christus wil ons absolute teuellose oorgawe van toewyding aan Homself hê. Ons kan Jesus Christus nooit ervaar, of Hom ooit binne die omvang van ons eie harte hou nie, maar ons geloof moet in sterk nadruklike vertroue in Hom gebou word.
Dit is langs hierdie lyn dat ons die ruwe ongeduld van die Heilige Gees teen ongeloof sien. Al ons vrese is boos, en ons vrees omdat ons onsself nie in ons geloof wil voed nie. Hoe kan enigiemand wat met Jesus Christus vereenselwig is aan twyfel of vrees ly! Dit behoort ’n absolute loflied van volkome ononderdrukbare, triomfantlike geloof te wees.