Daaglikse oordenking

DIE HOOGSTE KLIM

Neem nou jou seun.

Genesis 22:2

God se bevel is — Neem nou, nie later nie. Dit is buitengewoon hoe ons debatteer! Ons weet ’n ding is reg, maar ons probeer verskonings vind om dit nie dadelik te doen nie. Om te klim tot die hoogte wat God wys kan nooit later gedoen word nie, dit moet nou gedoen word. Die offer word in die wil deurgegaan voordat dit daadwerklik gebring word.

"En Abraham het die môre vroeg opgestaan en na die plek gegaan waarvan God hom vertel het" (vers. 3). Die wonderlike eenvoud van Abraham! Toe God gepraat het, het hy nie vlees en bloed geraadpleeg nie. Pas op wanneer u vlees en bloed wil raadpleeg, d.w.s., u eie meegevoelens, u eie insig, enigiets wat nie op u persoonlike verhouding met God gegrond is nie. Dit is die dinge wat met gehoorsaamheid aan God meeding en dit verhinder.

Abraham het nie die offer gekies nie. Waak altyd teen selfgekose diens vir God; selfopoffering kan ’n siekte wees. Indien God u beker soet gemaak het, drink dit met genade; indien Hy dit bitter gemaak het, drink dit in gemeenskap met Hom. Indien God se voorsienige orde vir u ’n harde tyd van moeilikheid is, gaan daarmee deur, maar moet nooit die toneel van u martelaarskap kies nie. God het die smeltkroes vir Abraham gekies, en Abraham het geen beswaar gemaak nie; hy het bestendig daardeur gegaan. Indien u nie in aanraking met Hom leef nie, is dit maklik om ’n kru uitspraak oor God te vel. U moet deur die smeltkroes gaan voordat u enige reg het om ’n uitspraak te lewer, want in die smeltkroes leer u God beter ken. God werk vir Sy hoogste oogmerke totdat Sy voorneme en die mens se voorneme een word.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in