Daaglikse oordenking

DIE ONGEËWENAARDE KRAG VAN GEBED

Ons weet nie waarvoor ons behoort te bid soos dit hoort nie: maar die Gees self doen vir ons voorbidding met sugtinge wat nie uitgespreek kan word nie.

Romeine 8:26

Ons besef dat ons deur die Heilige Gees vir gebed bekragtig word; ons weet wat dit is om in die Gees te bid; maar ons besef nie so dikwels dat die Heilige Gees Self in ons gebede bid wat ons nie kan uitspreek nie. Wanneer ons uit God wedergebore is en deur die Gees van God bewoon word, druk Hy die onuitspreeklike vir ons uit.

"Hy," die Gees in u, "doen voorbidding vir die heiliges volgens die wil van God," en God deursoek u hart nie om te weet wat u bewustelike gebede is nie, maar om vas te stel wat die gebed van die Heilige Gees is.

Die Gees van God het die natuur van die gelowige nodig as ’n heiligdom waarin Hy Sy voorbidding kan offer. "Julle liggaam is die tempel van die Heilige Gees." Toe Jesus Christus die tempel gereinig het, het Hy "nie toegelaat dat enigiemand enige voorwerp deur die tempel dra nie." Die Gees van God sal u nie toelaat om u liggaam vir u eie gerief te gebruik nie. Jesus het almal wat in die tempel verkoop en gekoop het, meedoënloos uitgedryf en gesê — "My huis sal ’n huis van gebed genoem word; maar julle het dit ’n rowerspelonk gemaak."

Het ons erken dat ons liggaam die tempel van die Heilige Gees is? Indien wel, moet ons sorgvuldig wees om dit vir Hom onbesmet te bewaar. Ons moet onthou dat ons bewustelike lewe, hoewel dit slegs ’n klein deeltjie van ons persoonlikheid is, deur ons as ’n heiligdom van die Heilige Gees beskou moet word. Hy sal omsien na die onbewuste deel waarvan ons niks weet nie; maar ons moet toesien dat ons die bewustelike deel waarvoor ons verantwoordelik is bewaak.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in