DIE ONOPGEMERKTE GEWYDHEID VAN OMSTANDIGHEDE
“Alle dinge werk ten goede mee vir dié wat God liefhet.”
Romeine 8:28
Die omstandighede van ’n heilige se lewe word deur God verorden. In die lewe van ’n heilige bestaan daar nie iets soos toeval nie. God bring u deur Sy voorsienigheid in omstandighede wat u glad nie kan verstaan nie, maar die Gees van God verstaan. God bring u in plekke en tussen mense en in toestande in sodat die voorbidding van die Gees in u ’n bepaalde lyn kan volg. Moet nooit u hand voor die omstandighede sit en sê — Ek gaan hier my eie voorsienigheid wees, ek moet dit dophou, en dat bewaak. Al u omstandighede is in die hand van God, daarom moet u nooit die omstandighede waarin u is as vreemd beskou nie. U deel in voorbiddingsgebed is nie om die smart van voorbidding binne te gaan nie, maar om die gesondeverstandsomstandighede waarin God u plaas, en die gesondeverstandsmense tussen wie Hy u deur Sy voorsienigheid plaas te benut, om hulle voor God se troon te bring en die Gees in u ’n geleentheid te gee om vir hulle voorbidding te doen. Op hierdie manier gaan God die hele wêreld met Sy heiliges deurvee.
Maak ek die Heilige Gees se werk moeilik deur onbepaald te wees, of deur Sy werk vir Hom te probeer doen? Ek moet die menslike kant van voorbidding doen, en die menslike kant is die omstandighede waarin ek is en die mense met wie ek in aanraking is. Ek moet my bewustelike lewe as ’n heiligdom van die Heilige Gees bewaar, dan doen die Heilige Gees vir die verskillende persone wat ek voor God bring, voorbidding.
U voorbiddinge kan nooit myne wees nie, en my voorbiddinge kan nooit uwe wees nie, maar die Heilige Gees doen voorbidding in ons bepaalde lewens, sonder daardie voorbidding sal iemand verarm word.