Daaglikse oordenking

DIE GESAG VAN WERKLIKHEID

Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.

Jakobus 4:8

Dit is noodsaaklik om mense die geleentheid te gee om na God se waarheid te handel. Die verantwoordelikheid moet by die individu gelaat word, u kan nie vir hom handel nie, dit moet sy eie doelbewuste daad wees, maar die evangeliese boodskap behoort ’n mens altyd tot handeling te lei. Die verlamming van die weiering om te handel laat ’n mens presies waar hy voorheen was; wanneer hy eenmaal handel, is hy nooit weer dieselfde nie. Dit is die dwaasheid daarvan wat in die pad staan van honderde wat deur die Gees van God oortuig is. Onmiddellik wanneer ek myself oorstort in ’n daad, leef ek daardie sekonde; al die res is bestaan. Die oomblikke wanneer ek waarlik leef is die oomblikke wanneer ek met my hele wil handel.

Moet nooit toelaat dat ’n waarheid van God wat tot u siel tuisgebring word verbygaan sonder dat u daarna handel nie, nie noodwendig liggaamlik nie, maar in die wil. Teken dit aan, met ink of met bloed. Die swakste heilige wat ’n transaksie met Jesus Christus aangaan word bevry die sekonde wanneer hy handel; al die almagtige krag van God is ten behoewe van hom. Ons kom tot by die waarheid van God, ons bely dat ons verkeerd is, maar gaan weer terug; dan kom ons weer tot by dit, en gaan terug; totdat ons leer dat ons geen reg het om terug te gaan nie. Ons moet op een of ander woord van ons verlossende Here geheel oorgaan en ’n transaksie met Hom aangaan. Sy woord "kom" beteken "gaan ’n transaksie aan." "Kom na My toe." Die laaste ding wat ons doen is om te kom; maar elkeen wat wel kom weet dat die bonatuurlike stroom van die lewe van God hom daardie sekonde onmiddellik binneval. Die oorheersende mag van die wêreld, die vlees en die duiwel word verlam, nie deur u daad nie, maar omdat u daad u aan God en Sy verlossende krag aangekoppel het.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in