Daaglikse oordenking

GESAG EN ONAFHANKLIKHEID

As julle My liefhet, sal julle My gebooie bewaar.

Johannes 14:15 (R.V.)

Ons Here dring nooit op gehoorsaamheid aan nie; Hy sê baie nadruklik vir ons wat ons behoort te doen, maar Hy gebruik nooit middele om ons dit te laat doen nie. Ons moet Hom uit ’n eenheid van gees gehoorsaam. Daarom het Ons Here wanneer Hy ook al oor dissipelskap gepraat het, dit met ’n INDIEN ingelei — u hoef nie tensy u wil nie. "As iemand My dissipel wil wees, moet hy homself verloën," laat hy sy reg op homself aan My prysgee. Ons Here praat nie van ewige posisies nie, maar daarvan om in hierdie orde van dinge vir Homself van waarde te wees, daarom klink Hy so streng (vgl. Lukas 14:26). Moet nooit hierdie woorde los van die Een wat hulle uitgespreek het vertolk nie.

Die Here gee my nie reëls nie, Hy maak Sy maatstaf baie duidelik, en indien my verhouding met Hom dié van liefde is, sal ek sonder enige huiwering doen wat Hy sê. Indien ek huiwer, is dit omdat ek iemand anders in mededinging met Hom liefhet, nl., myself. Jesus Christus sal my nie help om Hom te gehoorsaam nie, ek moet Hom gehoorsaam; en wanneer ek Hom wel gehoorsaam, vervul ek my geestelike bestemming. My persoonlike lewe kan volgepak wees met klein nietige voorvalle, heeltemal onopmerklik en onbeduidend; maar indien ek Jesus Christus in die lukrake omstandighede gehoorsaam, word hulle speldegaatjies waardeur ek die aangesig van God sien, en ek sal wanneer ek van aangesig tot aangesig met God staan ontdek dat duisende deur my gehoorsaamheid geseën is. Wanneer God se Verlossing eenmaal by die punt van gehoorsaamheid in ’n menslike siel kom, skep dit altyd. Indien ek Jesus Christus gehoorsaam, sal die Verlossing van God deur my na ander lewens stroom, omdat die Werklikheid van die Almagtige God agter die daad van gehoorsaamheid is.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in