Daaglikse oordenking

JULLE BEHOORT NIE AAN JULLESELF NIE

Weet julle nie dat . . julle nie aan julleself behoort nie?

1 Korintiërs 6:19

Daar bestaan nie iets soos ’n private lewe — "’n wêreld binne die wêreld" — vir ’n man of vrou wat in gemeenskap met Jesus Christus se lyding gebring is nie. God breek die private lewe van Sy heiliges oop, en maak dit ’n deurgang vir die wêreld aan die een kant en vir Homself aan die ander kant. Geen mens kan dit deurstaan tensy hy met Jesus Christus vereenselwig is nie. Ons word nie vir onsself geheilig nie, ons word in die gemeenskap van die Evangelie ingeroep, en dinge gebeur wat niks met ons te doen het nie, God bring ons in gemeenskap met Homself. Laat Hom Sy gang gaan, indien u dit nie doen nie, in plaas daarvan om van die geringste nut vir God in Sy Verlossingswerk in die wêreld te wees, sal u ’n belemmering en ’n remskoen wees.

Die eerste ding wat God met ons doen is om ons op ruwe Werklikheid te grond totdat ons nie omgee wat individueel van ons word nie solank Hy Sy gang kry vir die doel van Sy Verlossing. Waarom sou ons nie deur hartbreke gaan nie? Deur daardie deure maak God weë van gemeenskap met Sy Seun oop. Die meeste van ons val en stort ineen by die eerste greep van pyn; ons gaan sit op die drumpel van God se voorneme en sterf weg van selfbejammering, en alle sogenaamde Christelike simpatie sal ons tot by ons sterfbed help. Maar God sal nie. Hy kom met die greep van die deurboorde hand van Sy Seun, en sê — "Tree in gemeenskap met My; staan op en skyn." Indien God deur ’n gebroke hart Sy voornemens in die wêreld tot stand kan bring, dank Hom dan dat Hy u hart breek.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in