PLAASVERVANGING
“Hy het Hom vir ons tot sonde gemaak . . . sodat ons die geregtigheid van God gemaak kon word. . .”
2 Korintiërs 5:21
Die moderne siening van die dood van Jesus is dat Hy uit meegevoel vir ons sondes gesterf het. Die Nuwe-Testamentiese siening is dat Hy ons sonde nie deur meegevoel gedra het nie, maar deur vereenselwiging. Hy is tot sonde gemaak. Ons sondes word vanweë die dood van Jesus verwyder, en die verklaring van Sy dood is Sy gehoorsaamheid aan Sy Vader, nie Sy meegevoel met ons nie. Ons is vir God aanneemlik nie omdat ons gehoorsaam het, of omdat ons belowe het om dinge prys te gee nie, maar vanweë die dood van Christus, en op geen ander manier nie. Ons sê dat Jesus Christus gekom het om die Vaderskap van God, die liefderyke goedheid van God te openbaar; die Nuwe Testament sê Hy het gekom om die sonde van die wêreld weg te dra. Die openbaring van Sy Vader is vir diegene aan wie Hy as Verlosser bekendgestel is. Jesus Christus het nooit van Homself met die wêreld gepraat as Iemand wat die Vader openbaar nie, maar as ’n struikelblok (sien Johannes 15:22- 24). Johannes 14:9 is tot Sy dissipels gespreek.
Dat Christus vir my gesterf het, en ek daarom skotvry uitgaan, word nooit in die Nuwe Testament geleer nie. Wat wel in die Nuwe Testament geleer word is dat "Hy vir almal gesterf het" (nie — Hy het my dood gesterf nie), en dat ek deur vereenselwiging met Sy dood van sonde bevry kan word, en Sy eie geregtigheid aan my toebedeel kan word. Die plaasvervanging wat in die Nuwe Testament geleer word is tweevoudig: "Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, vir ons tot sonde gemaak; sodat ons in Hom die geregtigheid van God gemaak kon word." Dit is nie Christus vir my nie tensy ek vasbeslote is om Christus in my gevorm te hê.