DIE EWIGE GEDRANG VAN DINGE
“Ek het vir almal alles geword, om in alle geval sommige te red.”
1 Korintiërs 9:22
’n Christenarbeider moet leer hoe om God se edele man of vrou te wees te midde van ’n menigte onedele dinge. Moet nooit hierdie pleidooi voer nie — As ek maar net êrens anders was! Al God se manne is gewone manne wat buitengewoon gemaak is deur die inhoud wat Hy hulle gegee het. Tensy ons die regte inhoud intellektueel in ons denke en liefdevol in ons harte het, sal ons uit nuttigheid vir God verdring word. Ons is nie uit eie keuse arbeiders vir God nie. Baie mense kies doelbewus om arbeiders te wees, maar hulle het geen inhoud van God se almagtige genade in hulle nie, geen inhoud van Sy magtige Woord nie. Paulus se hele hart en denke en siel is in beslag geneem deur die groot inhoud van wat Jesus Christus gekom het om te doen, hy het daardie een ding nooit uit die oog verloor nie. Ons moet onsself voor die een sentrale feit stel — Jesus Christus en Hom as gekruisigde.
"Ek het julle uitverkies." Behou daardie noot van grootsheid in u geloofsoortuiging en geloofsbelydenis. Dit is nie dat u God in besit gekry het nie maar dat Hy u in besit gekry het. Hier, in hierdie Kollege, is God aan die werk, Hy buig, breek, vorm, en doen presies soos Hy verkies. Waarom Hy dit doen, weet ons nie; Hy doen dit slegs met een doel — dat Hy kan sê, Dit is My man, My vrou. Ons moet in God se hand wees sodat Hy mense op die Rots kan plant soos Hy ons geplant het.
Moet nooit kies om ’n arbeider te wees nie, maar wanneer God Sy roeping op u gelê het, wee u indien u na regs of na links draai. Hy sal met u doen wat Hy nooit met u gedoen het voordat die roeping gekom het nie; Hy sal met u doen wat Hy nie met ander mense doen nie. Laat Hom Sy gang gaan.