Daaglikse oordenking

DIE STANDPUNT

Maar God sy dank, wat ons altyd in Christus laat triomfeer.

2 Korintiërs 2:14

Die standpunt van ’n arbeider vir God moet nie so naby aan die hoogste wees as wat hy kan kom nie, dit moet die hoogste wees. Wees sorgvuldig om God se standpunt kragtig te handhaaf, dit moet elke dag, stukkie vir stukkie gedoen word; moenie aan die eindige dink nie. Geen mag van buite kan die standpunt raak nie.

Die standpunt wat gehandhaaf moet word is dat ons slegs vir een doel hier is, nl., om gevangenes in die stoet van Christus se triomfe te wees. Ons is nie in God se vertoonlokaal nie, ons is hier om een ding te vertoon — die absolute gevangenskap van ons lewens aan Jesus Christus. Hoe klein is die ander standpunte — ek staan alleen en stry vir Jesus; ek moet die saak van Christus handhaaf en hierdie vesting vir Hom hou. Paulus sê — Ek is in die stoet van ’n oorwinnaar, en dit maak nie saak wat die moeilikhede is nie, ek word altyd in triomf gelei. Word hierdie idee prakties in ons uitgewerk? Paulus se geheime vreugde was dat God hom, ’n rebel wat op heterdaad teen Jesus Christus betrap is, geneem en ’n gevangene gemaak het, en nou is dit al waarvoor hy hier is. Paulus se vreugde was om ’n gevangene van die Here te wees, hy het geen ander belang in die hemel of op die aarde gehad nie. Dit is ’n skandelike ding vir ’n Christen om daarvan te praat om die oorwinning te behaal. Die Oorwinnaar behoort ons so volkome in besit te gekry het dat dit voortdurend Sy oorwinning is, en ons deur Hom meer as oorwinnaars is.

"Want ons is vir God ’n lieflike geur van Christus." Ons is omwiel met die geur van Jesus, en oral waar ons gaan is ons ’n wonderlike verkwikking vir God.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in