Daaglikse oordenking

GLAD NIE!

As iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel: die ou dinge het verbygegaan.

2 Korintiërs 5:17

Ons Here koester nooit ons vooroordele nie, Hy maak hulle dood, gaan lynreg dwars teen hulle in. Ons verbeel ons dat God ’n besondere belangstelling in ons bepaalde vooroordele het; ons is heeltemal seker dat God nooit met ons sal handel soos Hy met ander mense moet handel nie. "God moet op ’n baie streng manier met ander mense handel, maar natuurlik weet Hy dat my vooroordele in orde is." Ons moet leer — "Glad nie!" In plaas daarvan dat God aan die kant van ons vooroordele is, wis Hy hulle doelbewus uit. Dit is deel van ons morele opvoeding dat Sy voorsienigheid lynreg dwars teen ons vooroordele ingaan, en dat ons dophou hoe Hy dit doen. God betoon geen ontsag vir enigiets wat ons na Hom bring nie. Daar is slegs een ding wat God van ons wil hê, en dit is ons onvoorwaardelike oorgawe.

Wanneer ons wedergebore word, begin die Heilige Gees Sy nuwe skepping in ons uitwerk, en daar sal ’n tyd kom wanneer daar glad niks van die ou orde oor is nie, die ou plegtigheid gaan, die ou houding teenoor dinge gaan, en "alle dinge is uit God." Hoe gaan ons die lewe verkry wat geen begeerlikheid, geen eiebelang, geen gevoeligheid vir steke het nie, die liefde wat nie verbitterd word nie, wat geen kwaad bedink nie, wat altyd vriendelik is? Die enigste manier is deur toe te laat dat glad niks van die ou lewe oorbly nie; maar alleen eenvoudige volmaakte vertroue in God, sodanige vertroue dat ons nie meer God se seëninge wil hê nie, maar alleen Homself wil hê. Het ons by die plek gekom waar God Sy seëninge kan onttrek en dit ons vertroue in Hom nie raak nie? Wanneer ons God eenmaal aan die werk sien, sal ons nooit ons koppe kwel oor dinge wat gebeur nie, omdat ons daadwerklik op ons Vader in die Hemel vertrou wat die wêreld nie kan sien nie.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in