DIE GETUIENIS VAN DIE GEES
“Die Gees Self getuig saam met ons gees. . .”
Romeine 8:16 (R.V.)
Ons loop gevaar om die ruilgees te kry wanneer ons na God kom, ons wil die getuienis hê voordat ons gedoen het wat God vir ons sê om te doen. "Waarom openbaar God Homself nie aan my nie?" Hy kan nie, dit is nie dat Hy nie wil nie, maar Hy kan nie, omdat u in die pad staan solank u uself nie absoluut teuelloos aan Hom wil oorgee nie. Onmiddellik wanneer u dit doen, getuig God van Homself, Hy kan nie vir u getuig nie, maar Hy getuig onmiddellik van Sy eie natuur in u. Indien u die getuienis vóór die werklikheid gehad het, sou dit in sentimentele emosie eindig. Onmiddellik wanneer u met die Verlossing transaksie aangaan, en die vermetelheid van debat staak, gee God die getuienis. Sodra u redenering en argument laat vaar, getuig God van wat Hy gedoen het, en ons staan verstom oor ons vermetelheid dat ons Hom laat wag het. Indien u debatteer of God van sonde kan verlos, laat Hom dit óf doen, óf sê vir Hom dat Hy nie kan nie. Moenie hierdie en daardie persoon aanhaal nie, probeer Matteus 11:28 — "Kom na My toe." Kom, indien u moeg en swaar belaai is; vra, indien u weet dat u boos is (Lukas 11:13).
Die Gees van God getuig van die Verlossing van Ons Here, Hy getuig van niks anders nie; Hy kan nie van ons rede getuig nie. Die eenvoud wat uit ons natuurlike gesonde verstand besluite kom word maklik vir die getuienis van die Gees aangesien, maar die Gees getuig alleen van Sy eie natuur, en van die werk van Verlossing, nooit van ons rede nie. Indien ons Hom van ons rede probeer laat getuig, is dit geen wonder dat ons in duisternis en verwarring is nie. Gooi dit alles oorboord, vertrou op Hom, en Hy sal die getuienis gee.