IS GOD SE WIL MY WIL?
“Dit is die wil van God, naamlik julle heiligmaking.”
1 Tessalonisense 4:3
Dit is nie ’n vraag of God gewillig is om my te heilig nie; is dit my wil? Is ek gewillig om God alles in my te laat doen wat deur die Versoening moontlik gemaak is? Is ek gewillig om Jesus vir my tot heiligmaking gemaak te laat word, en om die lewe van Jesus in my sterflike vlees geopenbaar te laat word? Pas op dat u nie sê — O, ek verlang om geheilig te word nie. U doen nie, hou op verlang en maak dit ’n saak van transaksie — "Niks in my hande bring ek." Ontvang Jesus Christus om in implisiete geloof vir u tot heiligmaking gemaak te laat word, en die groot wonder van die Versoening van Jesus sal in u werklik gemaak word. Alles wat Jesus moontlik gemaak het word myne deur die vrye liefdegawe van God op grond van wat Hy volbring het, my houding as ’n geredde en geheiligde siel is dié van diep nederige heiligheid (daar bestaan nie iets soos trotse heiligheid nie), ’n heiligheid gegrond op smartevolle inkeer en ’n besef van onuitspreeklike skaamte en vernedering; en ook op die verbasingwekkende besef dat die liefde van God Homself by my aanbeveel het deurdat Hy terwyl ek my niks aan Hom gesteur het nie, alles vir my redding en heiligmaking voltooi het (sien Rom. 5:8. R.V.). Geen wonder dat Paulus sê niks is "in staat om ons te skei van die liefde van God, wat daar in Christus Jesus onse Here is." nie
Heiligmaking maak my een met Jesus Christus, en in Hom een met God, en dit word alleen deur die voortreflike Versoening van Christus gedoen. Moet nooit die gevolg as die oorsaak stel nie. Die gevolg in my is gehoorsaamheid en diens en gebed, en is die uitvloeisel van sprakeloze dank en aanbidding vir die wonderbaarlike heiligmaking wat in my uitgewerk is vanweë die Versoening.