Daaglikse oordenking

INDIVIDUELE ONTMOEDIGING EN PERSOONLIKE VERRUIMING

Moses het uitgegaan na sy broers, en hulle laste aanskou.

Eksodus 2:11

Moses het die verdrukking van sy volk gesien en was daarvan seker dat hy die een was wat hulle moes verlos, en in die regverdige verontwaardiging van sy eie gees het hy begin om hulle onregte reg te stel. Ná die eerste slag vir God en vir die reg, het God toegelaat dat Moses in volkome ontmoediging ingedryf word, Hy het hom die woestyn ingestuur om veertig jaar lank skape op te pas. Aan die einde van daardie tyd, het God verskyn en vir Moses gesê om Sy volk te gaan uitlei, en Moses het gesê — "Wie is ek, dat ek moet gaan?" Aan die begin het Moses besef dat hy die man was om die volk te verlos, maar hy moes eers deur God opgelei en gedissiplineer word. Hy was reg in die individuele aspek, maar hy was nie die man vir die werk voordat hy gemeenskap met God geleer het nie.

Ons kan die visie van God en ’n baie duidelike begrip hê van wat God wil hê, en met die begin van die uitvoering daarvan kom iets wat gelykstaan aan die veertig jaar in die woestyn, asof God die hele saak geïgnoreer het, en wanneer ons deur en deur ontmoedig is, kom God terug en laat die roeping herleef, en daar kom ’n bewing in ons stem en ons sê — "O, wie is ek?" Ons moet die eerste groot tred van God leer — "EK IS WAT EK IS het jou gestuur." Ons moet leer dat ons individuele inspanning vir God ’n vermetelheid is; ons individualiteit moet deur ’n persoonlike verhouding met God witgloeiend gemaak word (sien Matteus 3:17). Ons spits ons op die individuele aspek van dinge toe; ons het die visie — "Dit is wat God wil hê ek moet doen;" maar ons het nie in God se tred gekom nie. Indien u deur ’n tyd van ontmoediging gaan, lê daar ’n groot persoonlike verruiming voor.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in