OM IN GOD SE TRED TE KOM
“Henog het met God gewandel.”
Genesis 5:24
Die toets van ’n mens se godsdienslewe en karakter is nie wat hy in die buitengewone oomblikke van die lewe doen nie, maar wat hy in die gewone tye doen, wanneer daar niks ontsagliks of opwindends aan die gang is nie. Die waarde van ’n mens word geopenbaar in sy houding teenoor gewone dinge wanneer hy nie voor die voetligte is nie (vgl. Johannes 1:36). Dit is ’n pynlike saak om tot in God se tred deur te kom, dit beteken om geestelik u tweede asem te kry. In die leer om met God te wandel is daar altyd die moeilikheid om in Sy tred te kom; maar wanneer ons daarin gekom het, is die lewe van God die enigste kenmerk wat hom openbaar. Die individuele mens raak uit die oog verlore in sy persoonlike vereniging met God, en alleen die tred en die krag van God word geopenbaar.
Dit is moeilik om met God in pas te kom, want wanneer ons saam met Hom begin wandel ontdek ons dat Hy ons reeds vooruitgeloop het voordat ons drie treë gegee het. Hy het ander maniere om dinge te doen, en ons moet tot in Sy weë opgelei en gedissiplineer word. Van Jesus is gesê — "Hy sal nie faal of ontmoedig word nie," omdat Hy nooit vanuit Sy eie individuele standpunt gewerk het nie maar altyd vanuit die standpunt van Sy Vader, en ons moet leer om dieselfde te doen. Geestelike waarheid word deur atmosfeer geleer, nie deur intellektuele redenering nie. God se Gees verander die atmosfeer van ons manier om na dinge te kyk, en dinge begin moontlik word wat voorheen nooit moontlik was nie. Om in God se tred te kom beteken niks minder nie as vereniging met Homself. Dit neem lank om daar te kom, maar hou daarmee vol. Moenie toegee omdat die pyn juis nou erg is nie, gaan daarmee voort, en kort voor lank sal u ontdek dat u ’n nuwe visie en ’n nuwe doel het.