NA GOD SE STILTE — WAT?
“Toe Hy dan gehoor het dat hy siek was, het Hy twee dae gebly op die plek waar Hy was.”
Johannes 11:6
Het God u met ’n stilte vertrou — ’n stilte wat swanger van betekenis is? God se stiltes is Sy antwoorde. Dink aan daardie dae van algehele stilte in die huis in Betanië! Is daar enigiets in u lewe wat met daardie dae ooreenstem? Kan God u so vertrou, of vra u nog steeds om ’n sigbare antwoord? God sal u die seëninge gee wat u vra indien u nie daarsonder verder sal gaan nie; maar Sy stilte is die teken dat Hy u in ’n wonderbaarlike begrip van Homself inbring. Treur u voor God omdat u nie ’n hoorbare antwoord ontvang het nie? U sal ontdek dat God u op die intiemste moontlike wyse vertrou het, met ’n algehele stilte, nie van wanhoop nie, maar van welbehae, omdat Hy gesien het dat u ’n groter openbaring kon verdra. Indien God u ’n stilte gegee het, loof Hom, Hy bring u in die groot gang van Sy voornemens in. Die openbaarwording van die antwoord in die tyd is ’n saak van God se soewereiniteit. Tyd is niks vir God nie. ’n Ruk lank het u gesê — "Ek het God gevra om my brood te gee, en Hy het my ’n klip gegee." Hy het nie, en vandag ontdek u dat Hy u die brood van die lewe gegee het.
’n Wonderlike ding van God se stilte is dat die besmetting van Sy stilheid in u inkom en u volkome seker word — "Ek weet God het my gehoor." Sy stilte is die bewys dat Hy het. Solank u die idee het dat God u in antwoord op gebed sal seën, sal Hy dit doen, maar Hy sal u nooit die genade van stilte gee nie. Indien Jesus Christus u in die begrip inbring dat gebed tot die verheerliking van Sy Vader is, sal Hy u die eerste teken van Sy intimiteit gee — stilte.