WAARAAN SAL EK WEET?
“Ek dank U, o Vader ... omdat U hierdie dinge vir wyse en verstandige mense verberg, en dit aan kindertjies geopenbaar het.”
Matteus 11:25
In ’n geestelike verhouding groei ons nie stap vir stap nie; ons is óf daar óf ons is nie. God reinig ons nie al hoe meer van sonde nie, maar wanneer ons in die lig is, wandelend in die lig, word ons van alle sonde gereinig. Dit is ’n saak van gehoorsaamheid, en onmiddellik word die verhouding volmaak. Draai vir een sekonde uit gehoorsaamheid weg, en duisternis en dood is onmiddellik aan die werk.
Al God se openbarings is verseël totdat hulle deur gehoorsaamheid vir ons oopgemaak word. U sal hulle nooit deur filosofie of denke oopkry nie. Sodra u gehoorsaam, kom daar ’n ligflits. Laat God se waarheid in u werk deur daarin te week, nie deur u daarin in te kwel nie. Die enigste manier waarop u kan leer ken is deur op te hou probeer uitvind en deur wedergebore te word. Gehoorsaam God in die ding wat Hy vir u wys, en onmiddellik word die volgende ding oopgemaak. ’n Mens lees boekdele oor die werk van die Heilige Gees, terwyl vyf minute van drastiese gehoorsaamheid dinge so helder soos ’n sonstraal sou maak. "Ek veronderstel ek sal hierdie dinge eendag verstaan!" U kan hulle nou verstaan. Dit is nie studie wat dit doen nie, maar gehoorsaamheid. Die kleinste fragment van gehoorsaamheid, en die hemel gaan oop en die diepste waarhede van God behoort onmiddellik aan u. God sal nooit meer waarheid oor Homself openbaar voordat u gehoorsaam het wat u reeds weet nie. Pas op vir u wording tot "wys en verstandig."