DIE UITSLUITLIKHEID VAN CHRISTUS
“Kom na My toe.”
Matteus 11:28
Is dit nie vernederend om gesê te word dat ons na Jesus moet kom nie! Dink aan die dinge waarmee ons nie na Jesus Christus toe wil kom nie. As u wil weet hoe werklik u is, toets uself aan hierdie woorde — "Kom na My toe." In elke mate waarin u nie werklik is nie, sal u eerder teëstribbel as kom, eerder haarkloof as kom, eerder deur droefheid gaan as kom, u sal enigiets doen eerder as om die laaste skof van onuitspreeklike dwaasheid af te lê — "Net soos ek is[1]." Solank u die geringste bietjie geestelike aanmatiging het, sal dit hom altyd openbaar in die feit dat u verwag dat God vir u moet sê om ’n groot ding te doen, terwyl al wat Hy vir u sê om te doen is om te "kom."
"Kom na My toe." U sal wanneer u daardie woorde hoor weet dat iets in u moet gebeur voordat u kan kom. Die Heilige Gees sal u wys wat u moet doen, enigiets hoegenaamd wat die byl aan die wortel sal lê van die ding wat verhinder dat u deurkom. U sal nooit verder kom voordat u gewillig is om daardie een ding te doen nie. Die Heilige Gees sal die een oninneembare ding in u aanwys, maar Hy kan dit nie verroer tensy u gewillig is om Hom toe te laat nie.
Hoe dikwels het u met u versoeke na God gekom en weggegaan met die gevoel — Ag, wel, hierdie keer het ek dit gedoen! En tog gaan u met niks weg nie, terwyl God die hele tyd met uitgestrekte hande gestaan het nie alleen om u aan te neem nie, maar dat u Hom moet aanneem. Dink aan die onoorwinlike, onbedwingbare, onvermoeibare geduld van Jesus — "Kom na My toe."
[1] Die Engelse ‘Just as I am’ is ’n aanhaling uit die bekende gesang ‘Just As I Am’ deur Charlotte Elliott.