VERSOENMAKING
“Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, vir ons sonde gemaak; sodat ons in Hom die geregtigheid van God gemaak kon word.”
2 Korintiërs 5:21
Sonde is ’n fundamentele verhouding; dit is nie verkeerd-doen nie, dit is verkeerd-wees, doelbewuste en nadruklike onafhanklikheid van God. Die Christelike godsdiens grond alles op die positiewe, radikale natuur van sonde. Ander godsdienste handel oor sondes; alleen die Bybel handel oor sonde. Die eerste ding waarmee Jesus Christus in mense te doen gekry het was die erfelikheid van sonde, en dit is omdat ons dit in ons aanbieding van die Evangelie geïgnoreer het dat die boodskap van die Evangelie sy angel en sy ontploffingskrag verloor het.
Die openbaring van die Bybel is nie dat Jesus Christus ons vleeslike sondes op Hom geneem het nie, maar dat Hy die erfelikheid van sonde op Hom geneem het waaraan geen mens kan raak nie. God het Sy eie Seun sonde gemaak sodat Hy die sondaar ’n heilige kon maak. Dwarsdeur die Bybel word geopenbaar dat Ons Here die sonde van die wêreld deur vereenselwiging gedra het, nie deur meegevoel nie. Hy het doelbewus op Sy eie skouers geneem, en in Sy eie Persoon gedra, die hele saamgebalde sonde van die menslike geslag — "Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, vir ons sonde gemaak," en deur dit te doen het Hy die hele menslike geslag op die grondslag van Verlossing geplaas. Jesus Christus het die menslike geslag gerehabiliteer; Hy het dit teruggeplaas waar God dit ontwerp het om te wees, en enigiemand kan op grond van wat Ons Here aan die Kruis gedoen het tot vereniging met God ingaan.
’n Mens kan homself nie verlos nie; Verlossing is God se "deel," dit is volkome afgehandel en voltooi; die betrekking daarvan op individuele mense is ’n saak van hulle individuele handeling. Daar moet altyd ’n onderskeid getref word tussen die openbaring van Verlossing en die bewuste ervaring van redding in ’n mens se lewe.