Daaglikse oordenking

DIE GENEIGDHEID VAN ONTAARDING

Daarom soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het, en deur die sonde die dood; en die dood so tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.

Romeine 5:12

Die Bybel sê nie dat God die menslike geslag vir een mens se sonde gestraf het nie; maar dat die aard van sonde, nl., my aanspraak op my reg op myself, deur een mens die menslike geslag binnegekom het, en dat ’n ander Mens die sonde van die menslike geslag op Hom geneem en dit weggedoen het (Heb. 9:26) — ’n oneindig dieper openbaring. Die aard van sonde is nie onsedelikheid en verkeerd-doen nie, maar die aard van selfverwesenliking — ek is my eie god. Hierdie aard kan hom in betaamlike moraliteit of in onbetaamlike onsedelikheid uitwerk, maar dit het die een grondslag, my aanspraak op my reg op myself. Toe Ons Here mense in die gesig gestaar het met al die magte van die kwaad in hulle, en mense wat rein geleef het en moreel en regskape was, het Hy geen aandag geskenk aan die morele ontaarding van die een of die morele prestasie van die ander nie; Hy het gekyk na iets wat ons nie sien nie, nl., die aard.

Sonde is iets waarmee ek gebore word en waaraan ek nie kan raak nie; God raak in die Verlossing aan sonde. In die Kruis van Jesus Christus het God die hele menslike geslag verlos van die moontlikheid van verdoemenis deur die erfelikheid van sonde. God hou ’n mens nêrens verantwoordelik daarvoor dat hy die erfelikheid van sonde het nie. Die veroordeling is nie dat ek met ’n erfelikheid van sonde gebore word nie, maar as ek wanneer ek besef dat Jesus Christus gekom het om my daarvan te bevry, weier om Hom dit te laat doen, begin ek van daardie oomblik af die seël van verdoemenis ontvang. "En dit is die oordeel" (die beslissende oomblik), "dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense die duisternis liewer gehad het as die lig."

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in