DIE SFEER VAN VERNEDERING
“As U enigiets kan doen, ontferm U oor ons, en help ons.”
Markus 9:22
Ná elke tyd van verheffing word ons met ’n skielike vaart afgebring na dinge soos hulle is waar dit nóg mooi nóg poëties nóg verrukkend is. Die hoogte van die bergtop word aan die vaal sleurwerk van die vallei gemeet; maar dit is in die vallei dat ons tot die heerlikheid van God moet leef. Ons sien Sy heerlikheid op die berg, maar ons leef nooit daar tot Sy heerlikheid nie. Dit is in die sfeer van vernedering dat ons ons ware waarde vir God vind, dit is waar ons getrouheid geopenbaar word. Die meeste van ons kan dinge doen as ons altyd op die heldhaftige toonhoogte verkeer vanweë die natuurlike selfsug van ons harte, maar God wil ons op die vaal alledaagse toonhoogte hê, waar ons in die vallei volgens ons persoonlike verhouding tot Hom leef. Petrus het gedink dit sou ’n voortreflike ding wees as hulle op die berg kon bly, maar Jesus Christus het die dissipels van die berg af na die vallei geneem, die plek waar die betekenis van die visioen verklaar word.
"As U enigiets kan doen ..." Die vallei van vernedering is nodig om die skeptisisme uit ons uit te wortel. Kyk terug na u eie ervaring, en u sal vind dat u totdat u geleer het Wie Jesus was, ’n geslepe skeptikus oor Sy mag was. Toe u op die berg was, kon u enigiets glo, maar wat van die tyd toe u in die vallei teen feite te staan gekom het? U kan miskien ’n getuienis van heiligmaking gee, maar wat van die ding wat u juis nou verneder? Die laaste keer toe u saam met God op die berg was, het u gesien dat alle mag in die hemel en op die aarde aan Jesus behoort — sal u nou in die vallei van vernedering skepties wees?