Daaglikse oordenking

DIE SFEER VAN VERHEFFING

Jesus lei hulle alleen afsonderlik op ’n hoë berg.

Markus 9:2

Ons het almal tye op die berg beleef, toe ons dinge vanuit God se standpunt gesien het en daar wou bly; maar God sal ons nooit toelaat om daar te bly nie. Die toets van ons geestelike lewe is die vermoë om af te daal; as ons slegs die vermoë het om op te styg, is iets verkeerd. Dit is iets groots om saam met God op die berg te wees, maar ’n mens kom slegs daar sodat hy daarna tussen die duiwelbesetenes kan afgaan en hulle kan ophef. Ons is nie vir die berge en die dagbreke en estetiese verwantskappe gebou nie, dit is vir oomblikke van inspirasie, niks meer nie. Ons is vir die vallei gebou, vir die gewone stof waarin ons ons bevind, en dit is waar ons ons metaal moet bewys. Geestelike selfsug verlang altyd na herhaalde oomblikke op die berg. Ons voel dat ons soos engele sou kon praat en soos engele sou kon leef, as ons maar net op die berg kon bly. Die tye van verheffing is uitsonderlik, hulle het hulle betekenis in ons lewe met God, maar ons moet oppas dat ons geestelike selfsug hulle nie die enigste tyd wil maak nie.

Ons is geneig om te dink dat alles wat gebeur in nuttige onderrig omgesit moet word, dit moet in iets beters as onderrig omgesit word, nl., in karakter. Die berg is nie bedoel om ons enigiets te leer nie, dit is bedoel om ons iets te maak. Daar is ’n groot strik in die vraag — Wat is die nut daarvan? In geestelike sake kan ons nooit volgens daardie lyn bereken nie. Die oomblikke op die bergtoppe is seldsame oomblikke, en hulle is vir iets in God se doel bedoel.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in