DIE BEWUSSYN VAN DIE ROEP
“Want die noodsaaklikheid is my opgelê: ja, wee my, as ek die Evangelie nie verkondig nie!”
1 Korintiërs 9:16
Ons is geneig om die mistieke, bonatuurlike aanraking van God te vergeet. As u kan vertel waar u die roep van God gekry het en alles daaromtrent, betwyfel ek of u ooit ’n roep gehad het. Die roep van God kom nie soos dít nie, dit is veel meer bonatuurlik. Die verwesenliking daarvan in ’n mens se lewe kan met ’n skielike donderslag of met ’n geleidelike dagbreek kom, maar op watter wyse dit ook al kom, dit kom met die onderstroom van die bonatuurlike, iets wat nie in woorde gestel kan word nie, dit gaan altyd met ’n gloed gepaard. Op enige oomblik kan die skielike bewussyn deurbreek van hierdie onberekenbare, bonatuurlike, verrassende roep wat u lewe vasgegryp het — "Ek het u uitgekies." Die roep van God het niks met redding en heiligmaking te doen nie. Dit is nie omdat u geheilig is dat u daarom geroep is om die Evangelie te verkondig nie; die roep om die Evangelie te verkondig is oneindig anders. Paulus beskryf dit as ’n noodsaaklikheid wat hom opgelê is.
As u die groot bonatuurlike roep van God in u lewe uitgewis het, hersien u omstandighede en kyk waar God nie eerste was nie, maar u idees van diens, of u temperamentele vermoëns. Paulus het gesê — "Wee my, as ek die Evangelie nie verkondig nie!" Hy het die roep van God verwesenlik, en daar was geen mededinger om sy krag nie.
As ’n man of vrou deur God geroep is, maak dit nie saak hoe ongunstig die omstandighede is nie, elke krag wat aan die werk was sal uiteindelik tot God se doel bydra. By ooreenstemming tussen u en God se doel sal Hy nie slegs u bewuste lewe nie, maar al die dieper streke van u lewe wat u nie kan bereik nie, in harmonie bring.