DIE ONBERISPELIKE HOUDING
“As . . u onthou dat u broer iets teen u het. . . .”
Matteus 5:23
As u wanneer u by die altaar kom, daar onthou dat u broer enigiets teen u het, nie — as u deur ’n sieklike gevoeligheid iets opkrap nie, maar — "As u onthou," dit wil sê, as dit deur die Gees van God in u bewuste denke gebring word: "Versoen u eers met u broer, en kom dan en offer u gawe." Moet nooit beswaar maak teen die intense gevoeligheid van die Gees van God in u wanneer Hy u tot in die kleinste gewetensbeswaar onderrig nie.
"Versoen u eers met u broer . . ." Ons Here se aanwysing is eenvoudig, "Versoen u eers." Gaan terug langs die weg waarlangs u gekom het, gaan langs die weg wat aan u aangedui word deur die oortuiging wat by die altaar gegee is; hê teenoor die een wat iets teen u het ’n houding van denke en ’n stemming van siel wat versoening so natuurlik soos asemhaling maak. Jesus noem nie die ander persoon nie, Hy sê — u gaan. Daar is geen sprake van u regte nie. Die stempel van die heilige is dat hy van sy eie regte kan afsien en die Here Jesus kan gehoorsaam.
"En kom dan en offer u gawe." Die proses word duidelik gemerk. Eers, die heldhaftige gees van selfopoffering, dan die skielike stuiting deur die gevoeligheid van die Heilige Gees, en die stilhou by die punt van oortuiging, dan die weg van gehoorsaamheid aan die Woord van God, wat ’n onberispelike houding van denke en stemming teenoor die een teen wie u verkeerd gehandel het konstrueer; dan die blye, eenvoudige, ongehinderde offer van u gawe aan God.